Solidariteit Groeifonds skep hoop met jóú bydrae

flip-quoteWat is die Solidariteit Groeifonds?

Die Solidariteit Groeifonds is ʼn spesiale fonds wat reeds in 2008 gestig is. Solidariteit het die fonds geskep met die doel om aan sy lede, ondersteuners en lede van die breë publiek die geleentheid te gee om te help bou aan Solidariteit se droom en missie – dit is om hoop, vryheid, veiligheid en voorspoed vir sy lede en ondersteuners in Suid-Afrika te skep.

Wat is die doel van die groeifonds?

Die doel van die fonds is om deur middel van klein bydraes deur Solidariteit-lede, ondersteuners en lede van die breë publiek praktiese ontwikkelingsprojekte te befonds. Hierdie projekte is projekte wat ʼn waardevolle bydrae tot die samelewing en toekoms van ons kinders sal maak. Een van die grootste doelstellings van die groeifonds is om in ons kinders se opleiding, en derhalwe in hul toekoms, te belê. Solidariteit wil verseker dat ons kinders en hul kinders eendag die geleentheid sal hê om ʼn tersiêre kwalifikasie deur middel van moedertaalonderrig te verwerf. Ons wil boonop help verseker dat ons nasate eendag ʼn noemenswaardige bydrae tot die groei en ontwikkeling van ons land sal kan maak.

Die klem op onderrig en opleiding is een van die hoekstene van Solidariteit se visie. Luidens die jongste verslag van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) oor werkvooruitsigte vir matrieks, het slegs 50% van mense met ʼn matrieksertifikaat as hoogste kwalifikasie werk. In teenstelling daarmee het sowat 80% van mense wat oor een of ander tersiêre kwalifikasie beskik werk. ʼn Matrieksertifikaat verbeter dus wel ʼn persoon se kans om werk te hê, maar dit is ʼn tersiêre kwalifikasie wat ʼn persoon se kans om werk te hê aansienlik verbeter.

Deur middel van jou maandelikse bydraes tot die fonds bied die Solidariteit Groeifonds dus ʼn platform vir jou om ʼn betekenisvolle nalatenskap te skep.

Wat is al deur middel van die Solidariteit Groeifonds bereik?

Solidariteit is trots en opgewonde om bekend te maak dat hy onder meer reeds verskeie opleidingspojekte deur middel van die groeifonds help befonds het. Afrikaanse tersiêre instellings soos Akademia en Sol-Tech is grootliks deur die fonds op die been gebring. Die instellings het egter weldra in selfonderhoudende en suksesvolle ondernemings gegroei en ontwikkel.

Solidariteit het boonop in 2013 met behulp van die groeifonds in ʼn BCom-studierigting vir Akademia belê. Daarby spog Sol-Tech sedert 2013 met twee splinternuwe ambagte wat by dié kollege aangebied word. Die Solidariteit Groeifonds het ook, in samewerking met Helpende Hand se Beursinstituut, duisende jongmense deur middel van beurstoekennings in staat gestel om onderrig en opleiding te ontvang.

Solidariteit beplan om in die toekoms verskeie soortgelyke projekte met behulp van die groeifonds aan te pak. Beplanning is byvoorbeeld reeds aan die gang om ʼn splinternuwe kampus in Pretoria op te rig.

Hoe kan ek ʼn bydrae tot die Solidariteit Groeifonds maak?

Indien jy ʼn bydrae tot die Solidariteit Groeifonds wil maak, stuur gerus ʼn e-pos na groeifonds@solidariteit.co.za of skakel 0861 25 24 23.